Zandri & JB
"inteso ad essere"

As skrywer van liefdesverhale is dit vir my ongelooflik lekker om te hoor van die ware liefdesverhale wat elke dag rondom ons afspeel. Stories van hoe twee doodgewone mense mekaar ontmoet en onmiddellik malverlief is, of dalk lank eers vriende is en dan een dag besef hulle is eintlik vir mekaar bedoel en uiteindelik hulle gelukkige eindes kry. Soos die meeste goeie liefdesverhale is daar in mos maar in elkeen se storie kinkels en kabels, maar gewoonlik word die pad meer gelyk sodra die held en heldin in mekaar se arms is.
Vir Zandri en JB van Zyl was dit nie heeltemal die geval nie en miskien is dit juis die kinkels wat gekom het na hulle die groot liefde ontdek het, wat maak dat ek graag die storie met julle wil deel.
Die eerste indruk wat ʼn mens kry as jy ʼn foto van hierdie paartjie sien, is dat hulle beslis op die voorblad van ʼn tydskrif of ʼn Romanza hoort. JB is uit en uit die lang donker held en Zandri die beeldskone blondine met ʼn glimlag wat voel soos sonskyn. Dit is geen wonder die twee het mekaar op sosiale media “gestalk” het tot JB aan die begin van 2018 die moed bymekaar geskraap het om vir haar ʼn boodskap te stuur nie. Van daar af is hulle saam en aan die einde van 2019, toe hulle vir Zandri se ouers in New Zeeland gaan kuier, het die man ʼn plan gehad...
Hulle twee het gaan lugduik en terwyl Zandri aarde toe kom, sien sy ʼn groot wit banier waarop JB haar vra om sy vrou te word. Sy vertel hoe sy al in die lug begin huil het toe sy besef die boodskap is vir haar. Op die grond het die man van haar drome vir haar gewag, met die belofte van vir altyd om aan haar te bied. Sy het dadelik “ja” gesê, sonder om te weet dat die noodlot haar nog so paar keer hard aarde toe sou bring voor sy haar gelukkige einde sou kon hê.
Op die 13de Maart 2020, stap Zandri by Helena van der Westhuizen van HelenatheLabel in,met ʼn duidelike idee van wat sy wil hê – nie net van haar trourok nie, maar elke ander detail van die dag waaroor sy al haar hele lewe droom. Twee weke later word die grendeltyd aangekondig.
Zandri kan nie haar rok weer gaan pas nie, maar sy voel taamlik gerus daaroor, daar is nog baie tyd voor sy en haar held die September gaan trou. Tussendeur regulasies wat aangepas word, maak Helena die rok. Maar die inperking wat ʼn maand sou duur word verleng en haar ouers kan nie Suid-Afrika toe kom vir die troue nie. In Augustus word die paartjie gedwing om hulle droomdag met ʼn jaar aan te skuif.
Tog is die lewe so bitter kort en Zandri en JB word daaraan herinner tydens ʼn familiebegrafnis in die maand wat hulle aanvanklik sou trou. Daar en dan neem Zandri en JB ʼn impulsiewe besluit. Terwyl die meeste van JB se familie bymekaar is, gaan hulle trou. Sommer so sonder ʼn rok. Hulle vlieg Zandri se ouma, Tannie en die ringe af en besluit dat hulle die volgende jaar, vir haar ouers se onthalwe, steeds sal voortgaan met die groot dag.
ʼn Jaar later is die meeste grense ongelukkig steeds gesluit, en Zandri se ouers kan steeds nie na Suid-Afrika reis nie. JB en Zandri besluit toe dat hulle nie van stryk gebring gaan wees nie. Hulle gaan die geld wat vir die seremonie bedoel was en die trourok vat en een ongelooflike wittebrood hou... in die lande wat oop is natuurlik.
Hulle kaartjies na Dubai en Spanje was bespreek, hulle tasse gepak en die trourok reg vir reis, toe Omicron sy kop uitsteek en die Van Zyls hoor hulle wittebroodplanne is in die wiele gery. Deur al die teleurstellings het Zandri egter probeer positief bly, sy het geweet sy en JB moey saam wees, sy het net nie verstaan hoekom daar so baie dorings in die pad moes wees nie.
Kwaad, seer en moeg is Zandri een aand na ʼn selgroep, waar sy die boodskap gekry het dat sy moet uithou en vasbyt, die Here is in beheer en Hy weet wat Hy vir hulle beplan, voorspoed en nie teëspoed nie. Sy het Helena gekontak en gevra of dit moontlik is dat sy die rok so bietjie kan verander, Zandri was egter nie meer die meisie wat aan die begin van 2020 by HelenatheLabel ingestap het nie. Hulle drome oor die perfekte wittebrood het ook verander...
Toe ek haar vra waarom hulle op Italië besluit het, het sy sonder om te skroom geantwoord dat dit is waarheen hulle nog altyd wou gaan.
Zandri raak heel bewoë as sy hulle storie deel, maar sy weet dat God eers met haar en JB moes werk voor hulle die man en vrou voor Hom kon wees wat Hy oor hulle gedroom het. Hy het ook in sy Alwetendheid en Insig die pandemie gebruik om hulle te leer hoe om dieper te delf vir ʼn droom.
Moderne kultuur het ons oortuig dat ons geseënd is as alles seepglad verloop, maar JB en Zandri het geleer dat die grootste seën die wete is dat jy deur soveel moeilike dinge gegaan het met God se hand die heeltyd in joune. Zandri se hart het ook tot ʼn baie belangrike besef gekom en dit is dat hierdie dag, die gelukkige einde waarvan ek so graag skryf net die begin is en met JB se hand in hare en God se hand oor hulle, kan dinge van hier af net beter gaan.

Geskryf deur Didi Potgieter
Fotos deur @polinarazumovskaya